Error
  • JUser: :_load: Unable to load user with ID: 403
  • JUser: :_load: Unable to load user with ID: 410
Tuesday, 14 May 2013 12:24

Aston Lake

Written by 
Rate this item
(2 votes)

'n Groot water net buitekant Springs aan die Oosrand is ons volgende stop vir hierdie reeks oor "ander" hengelwaters. Hierdie is 'n pragtige stuk water met vele moontlikhede...

Die oord

Naam: Aston Lake.
Ligging: Oos van Springs, Oosrand Gauteng.
Hoe om daar te kom: Vanaf Springs neem die N17 in die rigting van Secunda.Vanaf die Wit pad afrit ry met die N17 ongeveer 4 km tot by die Ermelo pad afdraaibordjie na links en neem die afdraai. Na ongeveer 300 meter kom jy by 'n T-aansluiting waar jy regs draai. Volg die pad vir 3km tot by die Aston Lake afdraai na links en neem die afdraai. Ry nou vir ongeveer 1km tot net verby die geroesde seiljag aan die regterkant van die pad en draai regs af op die grondpad. Die ingang na die oord is 100 meter verder af imet die grondpad.
Lengte van oewer: Ongeveer 2.5km.
Toegang: R20.00 per persoon
Kontak: Sarel by 082 726 9907.

Die oewer en weer

Grondoppervlak: Fyn gras tot teen die water.
Waterkleur: Vaal- tot donkerbruin.
Waterdiepte: 1m op 12m vanaf die oewer waar ons gehengel het.
Obstruksies: Geen oor die algemeen.
Lugtempratuur: Min 12°C @ 06:00 en Maks. 28°C @ 14:00.
Windsterkte: 0 tot 15km/h.
Wolkbedekking: Betrokke aanvanklik, maar later het die son warm geskyn.

Die Sessie

Datum: 7 November 2011.
Duur: 07:00 tot 15:00.
Verwagting: Nie groot sakke vis word oor die algemeen hier gevang nie - ons sal maar moet sien...

Na aanleiding van Athol se voorstel, gaan besoek ons Aston Lake vir ons volgende paar sessies. Aston Lake is Benoni Hengelklub se klubwater en dit is gerieflik, net buite Springs, geleë. Aston Lake is nie een van die maklikste hengelwaters nie, maar met die regte benadering en jou huiswerk gedoen, kan jy 'n paar vis in die hounet kry vir die sessie. Baie van die 'locals' is klaarblyklik baie versigtig vir Aston Lake siende dat dit 'n man maklik kan laat bloei.
Athol hengel geredlik by die venue en sy antwoord op my vraag van wat die gemiddelde hoeveelheid vis is wat tydens 'n dag uitkom, is in die omgewing van 8. Wanneer ek by 'n 'nuwe' venue gaan hengel is vrae en antwoorde soos hierdie vir my baie belangrik om te bepaal wat om vir die dag te verwag. Dit help my ook geweldig baie met beplanning van die sessie.

Aston Lake beskik oor 'n visbevolking van karp, baber en moddervis. Karp van by die 5kg word van tyd tot tyd gevang, maar die gemiddelde grootte trek die skaal op so 1.5kg. Die babers wat ons tydens die sessie gevang het, het gewissel tussen 200g en 2kg, maar ek is oortuig dat as jy daarop fokus, jy 'n ordentlike baber van 10kg plus sal kan vang.

Oorweeg jou hengelafstand – Noukeurig!
Dis so maklik om by die water op te daag en jou lyne net lukraak in die water te gooi. Ek dink, na aanleiding van my eie ervaring en ondervinding, dat soveel van ons hengelaars so maklik hierdie fout maak. Ek het dan uitgevra oor die gemiddelde hengelafstand by Aston Lake en het tot die gevolgtrekking gekom dat die vis tot op 'n afstand tussen 80 en 110 meter gevang word. By die water aangekom haak ek my spoele op 100 meter in. Die wind waai effens sterk vanuit die noord-ooste en gevolglik voor ons van links na regs verby. Ek moet die 10' stok hard gooi om die aas teen die haak vas te gooi. Omdat die haak beslis verder is as waaraan ek gewoond is, besluit ek om my 'line mate' te gebruik om die werklike hengelafstand, nadat die 'slack' uitgetrek is en die aas op die bodem stil lê, te meet. Die 'line mate' meet 91 meter. Ek besluit om beide stokke van die begin van die sessie af, op dieselfde afstand te hengel. Groot fout! Met die grootte van die water in gedagte voel dit vir my na die regte besluit en gaan ek voort om drie voerbolle op die kol te gooi.
Vanwaar Athol se voerbolle val, kan ek sien dat hy beslis nader as ek hengel. Hy is op 70 en 80 meter. Athol vang vinnig 'n klein karpie en ongeveer 'n uur later 'n tweede en derde vis.
Na 1 uur en 15 minute kry ek 'n positiewe optel-en-styftrek-byt op my linker stok en ek kap vas, net om die vis te mis. Wel, dit het nou lank geneem om 'n byt te kry, maar ek weet dat wanneer die vis eers op my voerkol inkom, die byttempo sal optel en ook die hoeveelheid vis in my hounet. Ek gooi weer die stok op dieselfde afstand en ruik ook die ander stok se aas. 'n Uur later kry ek op die linker stok 'n terugstoot-byt – ek rol die lyn vinnig styf en kap vas toe die spanning op die lyn vermeerder – vis aan! My eerste vir is ook my grootste karp vir die sessie, 'n tipiese wedstryd-grootte vis van by die 1.5kg.
Intussen het die manne aan my linkerkant wat vir 'n sosiale uitstappie kom hengel het, sommer vinnig-vinnig twee karpe van dieselfde grootte bymekaar gemaak en dit op 'n afstand van nie verder as 60 meter nie. Athol vang ook intussen 'n vis op sy 70 meter stok en my kop begin oortyd werk. Dis nou alreeds 10:00 en ek het nog net die 1 vis in die net – Athol staan op 4 vis. Tyd vir besluitneming : ek kan of net een van my stokke nader skuif en probeer om die vis op die 100 meter haak aan die gang te kry, of ek moet die 100 meter as 'n'bad job' opgee en beide stokke skuif. Daar het teen hierdie tyd al soveel vis nader uitgekom en met soveel naweek-hengelaars wat nie veel verder as 70 meter gooi nie, maak ek 'n kaalkop besluit om beide stokke na 65 meter te skuif. Dit kos my om weer in te haak, maar dit behoort die moeite werd te wees. So gesê, so gedaan. Ek gooi vinnig drie groot voerbolle op my nuutgekose afstand en begin teen 10:20 sommer met groot voerbolle op die strop, daar hengel. Na 40 minute loop die katrol en my tweede vis is in die net en na 'n verdere 30 minute my derde vis.
So, wat leer hierdie verhaal vir my en jou? Begin op twee verskillende afstande hengel van die begin van die sessie af – sodoende sal jy vinniger kan agterkom waar daar meer visaktiwiteit is en kan jy jou wedstrydplan daarvolgens aanpas.

Klein Vaaldam?
Soos jy by die hek ingery kom, reguit na die water toe, het ons so 100 meter regs gaan sit. Aston Lake is baie beslis 'n naweek wegbreek venue vir die Oosranders – ek kan my net indink hoe die oewer oor vakansietye lyk!
Hoe baie herinner die water en oewer my nie aan 'n tipiese Vaaldam venue nie? Die vaal-bruin water, turfagtige grondsamestelling van die oewer en die fyn grassies wat op die oewer groei. Nadat ek daaroor gedink het, is dit ook nie vir my snaaks dat die water so vaal-bruin kleur het as ek na die grondsamestelling kyk nie. Volgens wat ek kon aflei is die Benoni klubwater gedeelte van die venue die grootste hengelarea by die dam. Aan die linkerkant is die water vlakker terwyl die regterkant naby die damwal oor baie dieper water beskik. Ons sal beslis in die volgende sessies beide hierdie twee dele van die oewer hengel en julle van ons wedervaringe vertel...

Vuil-Water Skepkuns.
Beweeg kniediepte in die water in. Hou jou stok voortdurend laag mits die water obstruksie- vry is – dit sal verseker dat die vis onder die wateroppervlak bly en so die kans verminder dat die hoek los kom.

Trek die vis nader deur die punt van die stok verby jou na die oewer te beweeg. Hou voortdurend die ingangspunt van die lyn in die water dop om te bepaal waar die vis is.

Sodra die vis ongeveer 10 tot 15 meter van jou af is, kry die skepnet gereed. Nou rol ek die voorslag knoop tot op die spoel. Omdat my voorslag 500mm korter as 2 stoklengtes is, weet ek die lyn is presies die regte lengte om die vis te skep wanneer ek die stok vertikaal sal optel.

Trek nou die vis tot reg voor jou met die stok deur dit stadig op te lig, hou die lyn in die water dop en antisipeer die posisie van die vis. Kry die skepnet finaal gereed. Wanneer die vis die water breek word die skepnet onder die vis ingedruk en opgelig.

Aas-aanwending.
Ons het tussen floaties, deeg en wurm hoekase rond gespeel. Die beste aas kombinasie was 'n floatie en skoon soet wit degie gewees. Ek kon meeste van my vis op 'n skoon wit floatie saam met die deeg vang terwyl Athol al sy vis op 'n selfgegeurde floatie gevang het. Enkele vis het 'n lang degie op die boonste hoek verkies. Al 3 die babertjies wat ons gevang het was op 'n floatie en deeg kombinasie. Die kere toe ek 'n wurm op die hoek geryg het, het 'n karpie die wurm gulsig opgetel.
Ons het meestal met slegs 2 geurkonsentrate op die voerbol gehengel - gewoonlik 'n sterk geur saam met 'n soeter of sagter geur.
Ons het die grondvoer skoon gebruik sonder einge geur-, lokmiddels of partikels in. Ek gebruik altyd my grondvoer rondom die 'mushroom' gewiggie so sag as moontlik, want dit verseker dat die voerbol telkens op die kol agterbly om meer vis op die kol te verseker.

 

Wen Wenk: Om soms 'n sterk gegeurde hoekaas aan te bied is ek lief daarvoor om die stukkie deeg wat ek op die hoeksteel gaan rol te geur. Ek vee net die degie in die bottel se prop en rol die degie tussen my wysvinger en duim. Alle sterk geure kan op hierdie manier gebruik word en dit spaar jou die moeite om verskillende gegeurde degies te maak.

 

Die Sessie.
Hierdie was weer 'n mislike, koue wegspring wat die weer vir die dag betref. Die wind het vroeg-vroeg vanuit die noord-ooste begin waai en dit was heeltemal toegetrek. Die sonnetjie het eers teen 11:00 behoorlik deur die wolke begin breek en later het die wind gaan lê, wat die dag in 'n plesier ontvou het. Na my onderonsie met die hengelafstand het dinge beter begin lyk, maar teen 13:00 het ek nog net 4 vis in die hounet gehad. My 65 meter kol het naderhand begin spoed optel. Athol het geredelik deur die sessie vis gekry en ek sou dit grootliks toeskryf aan sy beter benadering wat die afstand aanbetref – hy was vroeër op die lyn waar die vis rondgeswem het. 'n Konsentraat kombinasie van die nuwe piesang-knoffel 'bait spray' en die fluorescein groen karamel konsentraat het deurgans vir hom die nodige resultate opgelewer. My troefkaart kombinasie van die rooi-oranje 'Bunspice/Cinnamon Match Dip' en oranje TCP "Bait Spray' het my eerste twee byte opgelewer – alhoewel dit later nie suksesvol was nie. 'n Goeie konsentraat kombinasie was die nuwe fluorescein groen 'spice Bait Spray' met die lig fluorescein groen bloekom olie – beide op die voerbol. Nadat ek terug geskuif het van 100 meter na 65 meter, het ek vir die res van die sessie daar bly hengel. Met die wind wat later in die sessie gaan lê het, het ek besluit om 'n vrugtegeur te probeer en omdat die bloekom olie deur die sessie goeie reaksie opgelewer het, het ek 'n beproefde kombinasie van die lig groen fluorescein pynappel 'Match Dip' saam met die bloekomolie gegooi. Binne minute het my katrol geskreeu en kom ek voel dat dit 'n beter vis is. 'n Baber van ongeveer 2kg het die floatie en degie gegryp! Nou ja, jy kan nie altyd kies wat jy gaan vang nie en die babertjie het 'n welkome geveg opgesit en 'n bietjie ekstra gewig tot my sak.

Read 4349 times Last modified on Wednesday, 22 May 2013 10:48

Johan is a Protea Match Angler, with federation colours in Bank Angling and is a well-known figure at the resorts he regularly visits on assignments.