Error
  • JUser: :_load: Unable to load user with ID: 403
Thursday, 14 March 2013 08:23

Die 1-2-3 Pappie

Written by 
Rate this item
(17 votes)

Of jy nou 'n sosiale hengelaar is wat net nou en dan by die water kom, kompeter-end hengel of dalk net groot vis teiken, is die 1-2-3 Pappie beslis vir jou!

Wen wenk!
Deur heuning in die 1-2-3 Pappie te brei, bly dit lekker sag in die water en dit gee ook 'n aangename geur.

Hierdie pappie is veral baie gewild onder ons ouer hengelaars want dit is 'n resep wat al baie jare lank bestaan. Een van ons lesers het die ander dag 'n navraag oor hierdie pappie gehad en daarom het ons besluit om dit in hierdie deel van die Aaskliniek te hanteer. Die resep van hierdie pappie mag dalk effens verskil van hengelaar tot hengelaar, maar in wese bly dit dieselfde. Somer of winter kan hierdie pappie met groot sukses gebruik word om meerendeels karp en geelvis te vang. Dit kan alleen op die hoek of in kombinasie met ander ase soos byvoorbeeld. mieliepitte gebruik word. Self het ek baie karp in die Vaalrivier hiermee gevang en as ek weet ek gaan daar hengel sorg ek dat ek beslis 'n bolletjie daarvan saamvat. Met die tyd het hengelaars maar so bietjie met die 1-2-3 Pappie geeksperimenteer om 'n beter aas as sy buurman te hê waarmee hy meer vis kan vang. So is verskillende variasies van hierdie pappie gebore byvoorbeeld om vlapoeier daarin te brei. Die byvoeging van kerriepoeier is ook 'n gewilde variasie wat menige vis se val beteken het. Dis ook moontlik om ander geurmiddels of bymiddels in die 1-2-3 Pappie te gebruik om die aanloklikheid daarvan nog meer te verhoog.

Stap 1
Jy benodig 1 deel koekmeel, 1 deel suiker, 2 dele mieliemeel en 3 dele water, 'n knippie sout, 'n bak wat mikrogolfoond-veilig is, 'n eetlepel en 'n houer of sakkie om die pappie in te bêre

Stap 2
Los die suiker en sout in die water op.

Stap 3
Meng nou die koekmeel en mieliemeel met mekaar. As jy die pappie wil geur met vla of kerrie is dit nou die tyd om dit by te meng. So ½ deel van die bymiddel is genoeg.

Stap 4
Nou word die droë bestanddele en water gemeng. Sorg dat daar geen klonte in die mengsel is nie.

Stap 5
Kook nou die beslag in die mikrogolfoond vir 3 minute. Haal dit na ongeveer 1 minuut uit, roer en kook verder vir 'n minuut lank op 'n slag waarna jy dit weer roer. As dit nie meer teen die kante van die houer vassit nie, is dit gaar.

Stap 6
Wanneer die pappie gaar is word dit met 'n skoon nat lappie of handdoek bedek en laat staan om af te koel vir so'n halfuur.

Stap 7
Nou word die 1-2-3 Pappie gebrei tot sag en dan in die sakkie of houer geplaas – gereed vir daardie groot vis. Jy kan ook die pappie verdeel en een of twee verskillende geur variasies soos byvoorbeeld piesang of pynappel maak. Brei eenvoudig die geursel in 'n bolletjie pap in en bêre dit in 'n afsonderlike houer of sakkie.

Read 10321 times Last modified on Friday, 15 March 2013 11:35

Johan is a Protea Match Angler, with federation colours in Bank Angling and is a well-known figure at the resorts he regularly visits on assignments.